Dieet….

Met hierdie koppie vol spaghetti van my is ek die laaste tyd weer baie besig om te probeer om dinge bietjie te ontrafel…Maar heel laas, niks in hierdie koppie staan eenkant van die res nie, dit bly maar ‘n koekerige deurmekaar spul.

Ek het gedurende die laaste paar maande na ‘n paar ‘podcasts’ geluister en as ek nou moet sê waar dit begin het moet ek  ook maar eers die spaghetti mooi uitmekaar trek.  Kom ons los dit maar daar en val met die deur in die huis.  My spaghetti koek op die oomblik om dieet.  Ja, daai woordjie wat ons almal opnuut na suiker en brood laat gryp, want ons weet mos dit is die groot taboes van die lewe. Natuurlik die eerste wat nou weer by die deur uit gaan vlieg!

Ek was eintlik oppad om ‘n boek te koop : “Smart people don’t diet” en in my navorsing  koek die een spaghetti met die ander en die volgende en so beland ek by ‘n “podcast” oor “intuitive eating”. Gaan ons nou praat oor “Intuïtiewe eet”? Sjoe, dit klink vir my so lomp en nie lekker nie.  Kom ons verwys nou maar net na IE.  Terloops… Het toe nooit die boek gekoop nie.. Terwyl ek so na hierdie podcast luister beaam my gees ‘n hele paar dinge waaroor hierdie dames gesels. Kom ons noem hulle sommer Char-lee en Erin van nou af. Die gesprek maak iets in my wakker om bietjie dieper te delf.   Wow, hulle vra ook vrae soos die wat ek nou al lank oor wonder.  Vrae soos:  As Jesus en Sy disipels dan brood kon eet, hoekom is dit die eerste taboe van eet?  As God al hierdie lekker dinge in die lewe gemaak het, hoekom mag ons dit dan nie geniet nie?  Of my gedate:  Waar staan in die Bybel hoeveel presies ons moet weeg?

Erin en Car-lee gesels oor die dieetkultuur van die wêreld, wat om ons almal gespin is en die lewe uit ons uit wurg.   Haha, nou gaan jy seker vir my vertel jy is mooi, maer en gemaklik in jou lyf, jy oefen elke dag en jy eet mooi en reg.   Good for you!  Gaan jy ook vir my vertel jy het nog nooit na iemand anders gekyk en gedink, as ek maar so kan lyk, of soveel soos sy kon  eet sonder om gewig op te tel nie.  Of.. dalk het jy daai melkskommel gedrink en toe jy by die huis kom dadelik 3 km gaan draf om jouself te straf vir die sonde ?    Dalk staan jy in die oggend op en vertel jouself, die wêreld sal ophou draai as jy nie heel eerste gou ‘n oefen sessie inwerk nie.   Heel laas, dit is nie net ons ou vetties wat gebuk gaan onder die dieetkultuur van die wêreld nie,  ons buig almal daarvoor, (sommiges is net meer suksesvol as ander) ….. Of is dit nou sukses?   Is dit nie juis die problem nie?  Meet ons sukses aan selfbeheersing , fiksheid en ‘n nr 8 broek?

Erin en Char-lee (geregistreerde dieetkundige en sport wetenskaplike) reken daar is meer as een manier hoe die wêreld ons na dieet dryf.  Die eerste en mees logiese of algemene is dat ons graag mooier en beter wil lyk.  Die volgende een is egter baie meer verskans agter goeie bedoelings.  Jou gesondheid!! Ja, want alle maer mense is mos vreeslik gesond.  Daar is mos net ou tannies wat nr 8 broeke dra in die ouetehuis.  Die rondes maak dit mos nie tot daar nie! O ja,  behawe my Ouma en Ouma grootjie en Tannie Sannie en Tannie Annie en ….. o ja, nee, daar is nogal heelwat mooi ronde lyfies ook in die ouetehuis.   Kom jy by die dokter met een of ander kwaal is sy woorde gewoonlik…mmmm dalk moet jy ‘n paar kilos afskud? Nee, verstaan my mooi, ek sê nie daai ekstra vetjies maak nie dat jou kniee en enkels bietjie swaar trek nie, maar ek ken ook maer mense wat gaan vir knievervangings en diabete word.

Volgens diè dames is daar wetenskaplike navorsing wat bewys dat dun nie noodwendig gesond en dik ongesond is nie…   Kom ons laat dit daar, ek het nie die navorsing gedoen nie.  Al wat ek kan sê as my ma en my Tannie en my Ouma Bull Terriers is hoekom sal ek  dan ‘n Fox terrier wees?

Ag ja, dalk soek ek maar net verskonings nê!

Soos wat ek na al die stories luister merk ek egter 1 ding op …ons almal het ‘n storie oor dieet en nie almal se storie begin op dieselfde plek nie. Meeste van ons eindig egter op dieselfede plek. My eerste spaghetti wat ek dan moet ontrafel is :

My storie

As kind het ek redelik sorgeloos en vry groot geword.  Ons het in ‘n klein woonbuurt buite die dorp gebly en kon redelik vrylik  fietsry en rondbeweeg.  Die enigste voorwaarde, Ma moet weet waar ons is en ons moet 16:45 voor my pa by die huis wees.  Ons het baie geleenthede gehad om aktief te wees.  Ons kon fietsry , swem, tennis, muurbal en tafeltennis speel.   Dis nou bo en behalwe skoolsport waaraan ons ook kon deelneem.  Ek kon eet net wat ek wil en “gat maer” bly want ek was baie aktief.  Selfs gedurende my tiener jare toe my lyf begin vorm aanneem en ek nie meer net knieë en ore was nie, was ek tussen skraal en gemiddeld.  Gedurende my eerste jaar op varsity het ek nie die spreekwoordelike koeksister sindroom gehad nie en het seker so 3 kg opgetel gedurende die 4 jaar.  Ek het nie ‘n karretjie gehad nie en het gefiets en stap waar ek moes kom.  Geld vir baie soetighede en ekstras was daar nie en ek het geëet wat op die tafel was. Hierna het ons plaas toe getrek en het my lewe heelwat rustiger geword.  Alhoewel ek nooit ‘n atleet was nie, het ek nog altyd van beweeg gehou en maklik gestap en fiets gery, so ook op die plaas.  Selfs my swangerskappe het my goed behandel, maar ek het so stadig maar seker bietjie pondjies begin by las.  Omdat ek groot geword het met ‘n ma, tannies en Ouma wat almal redelik , sal ons nou maar sê “rond” was, was oorgewig ietsie waarvan ek altyd bewus was en gevrees het.  Dit kan seker die begin van my verhouding met die dieet kultuur verklaar.

As ek my ma se ronde lyfie en haar onvergenoegdheid met haar BOUDE en BOARMS soos wat sy dit genoem het onthou, dan moet ek tot my skaamte erken dat ek haar geoordeel het en gedink het dis haar eie skuld.  (skuus Ma).  My ma het altyd vir ons goeie gesonde kos in die huis gegee en nooit met ons geraas of onnodige klem op eetgwoontes gelê nie.  Dit het gemaak dat ek nie ‘n onnatuurlike behepteid met kos van kleins af gehad het nie.  Lekkers en koeldrank was regverdig verdeel en ek het nie nodig gehad om te veg vir myne nie.  (dankie Ma) Ek het wel met ‘n man getrou wat altyd honger was en hier het ek geleer om te eet terwyl daar ís…. Skuus my Liefie. Alles het redelik goed gegaan tot ek gesukkel het om swanger te raak met my derde kind.  Ek het gewrigspyne gehad en na bloedtoetse het ek begin om pille vir ‘n onderaktiewe skildklier te drink.

Na my derde swangerskap het ek met die vetjies begin stoei.

Toe ek sien dat ek moontlik die paadjie van die famlilie geskiedenis met oorgewig stap, het die rooi ligte aangegaan.  Die eerste regte dieet wat ek gevolg het was die spuite dieet.  Dit was by ons huis dokter en ek het geglo dis ‘n baie veilige opsie… Dit was uithongering op sy beste en ek het redelik verloor, maar ek was net so 5 kg oor my teiken gewig daardie tyd.

So laat mens jou ompraat deur ander en dan is dit stropies en dan is dit Herbal life, dan besluit jy weer , nee, dit moet ‘n leefstyl aanpassing wees en dan is dit weer Weighless,  Weightwatchers en heel laaste die 28 dae dieet.

Ek het stadig geklim van my post varsity 55 kg tot ‘n asemrowende 90 kg… ek het feitlik verdubbel.  Soos die IE Tannies tereg gesê het, geen dieet se gewig het permanent afgebly nie.   Ek het so 12  kg afgeskud met die 28 dae dieet.  Na die 28 dae dieet het my gewig mooi gehou vir so 2 jaar waartydens ek maar weer gereeld  die dieetplan aangedurf het. 

Toe, vroeg verlede jaar, voor Covid ons met ‘n vuishou kom tref,  sien ek dat ek al amper weer “back to square one “ is.  Ek het net van “bad na worse” gegaan.  Januarie verlede jaar, lees ek ‘n boek met die naam “The power of habit” en word weer bewus gemaak dat as ons blywende verandering wil hê dit 1 klein treetjie op ‘n slag moet wees en nie hierdie reuse “once of bang” nie, want dit hou gewoonlik nie.  So  besluit ek om om saam met ‘n “challenge partner” vir 30 dae ‘n paar leefstyl veranderinge te maak.  Geen suiker, geen brood, 1 vasdag, 1 dag net wortels of groente, 8 glase water en 15 minute se stap. Dit was nie te moeilik nie…uit die aard van die saak… net die suiker!!!!   En dit werk eintlik goed.  Die 30 dae word ‘n paar maande en dit hou goed.  My dogter kom huistoe gedurende Covid en ek het ‘n stap maatjie.  Toe die eerste ‘lockdown‘ begin lig, raak dit reën seisoen en my stap raak al hoe ongereelder. Die begin van die einde…….

My goeie gewoontes……al hoe slegter en toe ek weer kyk is ek weer terug waar ek 4 jaar terug was.  Ek stap nog gereeld,  maar ai, die water, suiker en die ou broodjie…….. 

My liggaam “revenge”……. glo ek gaan nooit weer kos kry nie en pak die vetjies terug asof dít alleen my teen Covid kan beskerm.

As daar 2 goed is wat teen my tel?  Ek hou van suiker en ek hou nie van oefen nie.  Ek sal stap want dis vir my lekker.  Ek sit glad nie druk op myself om te oefen nie, ek hou nie van pyn nie…Haha  Kortom ek is onfiks en lui.

So hoekom nou my guts spill hier? 

Ek dink my storie is baie algemeen.

Daar is ‘n paar foutjies wat ons maak.

1 Ons sien hoe Mamma lyk en “vow” om nooit so te lyk nie.

2 Ons vergelyk ons met ander, min wetende watter onnatuurlike gedragspatrone daardie persoon het om te kan lyk soos hy lyk.

3 Ons laat toe dat ander mense ons laat sleg voel oor onssself.  Ons laat ons sleg voel oor onsself.

4 Ons laat ons “in chat” in allerhande diëte en konfoes ons metabolisme nog meer. 

5 Ons vergeet dat God ons elkeen uniek gemaak het en dat elke liggaam uniek funksioneer.

6 Ons honger onsself uit en dan vergryp ons onself.

Dit is dan my storie tot hier………..

Slotsom, gevolgtrekking, klip in die bos

Gedurende hierdie proses van op en af , dik en dun, raak ons al hoe dieper vasgespin in ‘n wêreld van dieet en mislukking.

Die gevolg: Ons voel so sleg oor onsself dat ons nog meer eet.

As ek klere koop, om nie van swemklere te praat nie, en die spieel staar genadeloos na my terug met sy koue eerlikheid dan sit ek sommer alles neer en gaan eet ‘n ietsie….

So jo-jo ons op en af en heen en weer en die gat raak net dieper en donkerder tot ons op  ‘n plek kom waar ons niks goed meer oor ons self te sê het nie.  Ai tog.

Alhoewel ek “‘n Kop vol spaghetti” al ‘n paar jaar gelede begin het, het ek nie veel tyd ingesit om my los en gekoekte spaghettis met julle te deel nie.  Ek het nou besluit om meer gereeld te blog en op ‘n reis te gaan om te kyk wat alles uitkom as ek die spul so bietjie omkrap en probeer ontrafel.  Ek gaan ‘n paar “tools” met julle deel en sommer oor die algemeen gesels oor die gewaarwordings wat ek uit Erin en Char-lee se podcast kry.  Omdat ek ‘n spaghetti koppie is, is ek nooit net met 1 ding op ‘n slag besig nie, krap ek tergelyke tyd nog hier daar en oral ook en gaan ek vir seker nog ‘n paar bestanddele by gooi langs die pad, wat alles dalk nog meer kan omkrap….Wie weet

……..

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s